top of page

Sewende Doppergemeente in Rosestad kom tot stand

 

In 1965 het die kerkraad van die Gereformeerde Kerk Bloemfontein-Suid vergader en besluit om die wyke suid van die spoorlyn na Kimberley af te stig. Die amptelike afstigting het op hierdie dag plaasgevind. As bruidskat kry die nuwe gemeente ’n kerkerf in die voorstad Generaal De Wet, waarop die kerkgebou opgerig moes word. Eers is eredienste op verskeie plekke gehou voor bouwerk aan die gebou kon begin. 

​

Die projek se beplanning het op 27 Julie 1967 begin en ’n tender van R60 877 van die firma J.P.M. Moffett is aanvaar. Ds. W.J.I.M. du Plessis het die hoeksteen op 27 Mei 1968 gelê. Die jongste uitgawe van die gemeenteblad is saam met die hoeksteen ingemessel. ’n Kenmerk van dié destyds moderne gebou is sy wegstaande toring wat met die gebou verbind is. Die gemeente se susters het aan die werk gespring en die orrel, wat teen ’n koste van R6 475, betreklik gou afbetaal. Net nege maande nadat die hoeksteen gelê is, en wel op 1 Maart 1969 kon die kerk in gebruik geneem word tydens ’n erediens wat dr. G.C.P. van der Vyver gelei het. Ds. W.J.I.M. du Plessis eggenote, Breggie du Plessis, het die hoofingang by die hoeksteen plegtig oopgesluit. 

​

Die kerkgebou bied sitplek aan sowat 600 - 800 kerkgangers, wanneer die kleinsaal (wat voorheen die saal en die kerk deur middel van voudeure verdeel het) se kapasiteit bygereken word. Lidmate het heelwat van die items in die kerk geskenk: die galleryhorlosie, doopbakkie, knielbank voor die preekstoel, Kanselbybel en kerkbanke.

​

Destyds het die gemeente nog gegroei; daarom is op ’n vergadering op 17 Maart 1976 besluit om die kerk te vergroot. Die gevolg was die bou van die kerksaal wat oudl. V. du Plessis teen ’n koste van R104 000 opgerig het. Weens die hoë boukoste het die kerkraad afstigting bespreek en so het die Gereformeerde Kerk Bloempark in 1979 afgestig.

​

Predikante

​​

  • Du Plessis, Willem Jacobus Ignatius Michael, 1965 – 1971

  • Opperman, Johannes Marthinus, 1971 – 1974 (verlaat die bediening)

  • Van der Walt, Johannes Petrus Lodewikus, 1974 – 1979

  • Janse van Rensburg, Karel Anton, 1976 – 1981

  • Kruger, dr. Petrus Paulus, 1982 – 1991

  • Jansen, Carl Albert, 1991 – 1999

  • Aucamp, Johannes Louis, 2000 – 2008

  • Stoltz, Hendrik Jacobus, 2008 – 2013

  • Grobler, Johannes Hendrik, 2014 – hede (in samewerking met Reddersburg)

bottom of page